Jy word hartelik uitgenooi na die Hamman huweliksviering.
Elkeen neem ’n besondere plek in ons lewens en harte in, en daarom sal dit vir ons ’n groot voorreg wees om hierdie betekenisvolle dag saam met jou te vier. 10 Oktober 2026, DuVon Robertson, Seremonie begin stiptelik om 15:00.
Formele kleredrag sal geskik wees vir ons dag.
Vir ons spesiale dag sien ons daarna uit om saam met julle ’n tydlose en elegante atmosfeer te skep. Die kleredrag is formeel: dames in lang rokke, en here word vriendelik versoek om klassiek en netjies, met ’n das, geklee te wees. Baadjies word nie vereis nie.
Ons kleurpalet is geïnspireer deur warm herfskakerings en sagte neutrale kleure; daarom vra ons dat helder kleure asseblief vermy word. Ons waardeer dit ook indien denim en pufferbaadjies vir hierdie geleentheid tuis gelaat word.
Seremonie
Die seremonie begin stiptelik om 15:00, ons vra dat almal asseblief hul sitplekke sal neem 14:30.
Verversingsuur
Drankies en southappies word direk na seremonie op die gras geniet. Skink 'n glasie op die Hammans!
Onthaal
Ons versoek dat almal na binne sal beweeg vanaf 17:30 vir die aand se feesvieringe.
Ons huisie staan gereed, al goed toegerus, maar vir dié wat ons graag wil bederf, sal ’n bydrae tot ons wittebrood die begin van ’n wonderlike avontuur verseker.
Wittebrood Fonds
MS SS GELDENHUYS
CAPITEC SAVINGS ACCOUNT
BRANCH CODE: 470010
ACCOUNT NUMBER: 251 390 3060
Ons rig asseblief 'n vriendelike versoek om voor die 1ste Augustus 2026 jou teenvwoordigheid te bevestig.
RSVP is slegs per individuele uitnodiging.
Hoewel elkeen van julle kleintjies baie na aan ons hart is, is ons troue ’n volwasse geleentheid, en kinders word nie geakkommodeer nie. Ons vertrou dat dit vir ouers ’n heerlike geleentheid sal wees om ’n aandjie saam te geniet.
Indien ons nie teen 1 Augustus bevestiging ontvang nie, sal ons dit ongelukkig as ’n afwesigheid moet aanteken, aangesien finale reëlings betyds gefinaliseer moet word.
Ons sal dit opreg waardeer indien u ons so spoedig as moontlik kan laat weet of u die dag saam met ons kan vier.
Maak asseblief ook seker om enige dieetvoorkeure of allergieë op die RSVP-skakel hierbo aan te dui.








Akkommodasie
Ons trouseremonie, verversings en onthaal vind alles plaas op DuVon se pragtige perseel. Ons kan nie wag om die aand saam met ons gunsteling mense deur te bring, tot sommer baie laat!
Vir almal se gerief het ons ’n paar knus akkommodasie-opsies naby ons venue saamgestel, sodat julle die aand saam met ons kan geniet sonder om oor die pad huis te bekommer.
Ons Storie
Ons was maar net 18 en 19 jaar oud toe ons paadjies by mekaar uitgekom het in Potchefstroom. Ná ’n vlugtige ontmoeting het ons gou agtergekom dat ons iets besonders gevind het, ’n gemak en ’n stil tuiste in mekaar se teenwoordigheid. Dit was nie net ’n onmiddellike aantrekking nie, maar ook ’n vriendskap wat vanself ontstaan het.
“Vandat ons mekaar ontmoet het, kan ek nie ’n dag onthou sonder Stephan nie. Jy was van daardie dag af die eerste persoon met wie ek alles wou deel, goeie of slegte nuus. Die enigste persoon wat ek wou trots maak en na wie ek wou terugkom na ’n lang dag. My Steph.”
Na Potch het Sharika se paadjie na Stellenbosch gelei waar sy haar eerste werk aangepak het, terwyl Stephan nog vir ’n paar maande sy graadkursus en die studentelewe in Potch voltooi het. Ná ’n paar besige maande van op en af ry tussen Potch en Stellenbosch, en Sharika wat net-net genoeg geldjies verdien het vir kos, petrol en twee ritte Worcester toe per maand, het planne begin vorm aanneem.
Dit is waar ’n belangrike rolspeler haar verskyning maak. Stephan se vriendin, wat toe later een van Sharika se beste vriendine sou word, kom met ’n aanbod wat moeilik was om te weerstaan:
“As ons vir jou ’n werk in Worcester kry, sal jy trek en saam met my intrek?” Deidre' du Toit.
’n Paar maande later trek Didi en Sharika in hul eerste huisie in Worcester in. Maar natuurlik was daar ook ’n gereelde derde huisbewoner, Stephan. Hy wat die lekkernye uit die yskas laat verdwyn het en soms versuim het om sy wasgoed van die badkamer vloer af op te tel. Tog was daar altyd opgewondenheid wanneer sy Ford bakkie buite hulle huisie gestaan het.
Stephan se pad het hom intussen na die vrugtebedryf gelei, waar hy waardevolle ondervinding oor verskeie geleenthede opgedoen het. Nie lank daarna nie het sy toekoms duidelik begin vorm aanneem, en die tyd het aangebreek om sy spore op die plaas te kom neerlê, die begin van ’n nuwe avontuur.
’n Paar maande later besluit Stephan en Sharika dat een van hul vele talente dalk ook renovasies is. Mure is geverf, vloere geskuur en gevernis, en toe weer geskuur... want Sharika het nie heeltemal van die kleur gehou wat sy SELF gekies het, maar snaaks genoeg Stephan het nog nie tot vandag eenkeer daaroor gekla nie...
Na baie "trial en error" was hul eerste klein huisie uiteindelik gereed in November 2024, met trots genoem Klein Bellevue.
Die jaar wat gevolg het, was ’n ongelooflike leerskool, van plaaslewe, saam bly, kosmaak, oefen, en mekaar nog beter leer ken. Hoe ons lyk op ’n moeilike dag, hoe die kleinste dinge ons opgewonde maak, en hoe ons, selfs na 8 jaar, steeds elke dag leer hoe om beter vir mekaar op te daag.
’n Jaar later vertrek die twee op ’n naweek weg na Bloubergstrand, ’n tradisie wat hulle elke paar maande probeer volhou.
En toe gebeur daar iets snaaks.
Op die strand, tydens ’n piekniek, is Stephan, wat gewoonlik al die padkos opeet voor die reis eers begin, skielik stil. Hy eet nie, hy gesels nie, iets wat glad nie by hom pas nie. Sharika, effens bekommerd, besef iets is aan die gang.
En toe, daar op die strand, vra Stephan haar om te trou.
...en hier is ons nou.
Terwyl ons terugkyk op die afgelope 8 jaar, besef ons dat hierdie eintlik net die begin is, van ons lewe saam, ons lewe saam met julle, en die mense wat nog deel van ons storie gaan word.
Dankie dat ons mense soos julle het om hierdie pad mee te deel, tot nou en in die toekoms wat voorlê.